Gerard Braak lê tuig neer

Gerard Braak het vir etlike jare diep spore in die georganiseerde varkvleisbedryf getrap, maar hy het nou besluit dat hy sy kant gebring het en dat ‘n jonger generasie nou die leisels moet oorneem.

Gerard is ‘n vorige voorsitter van die PPP en het SAPPO ook as nasionale voorsitter gelei. Hy het ook in verskeie spesialiskomitees soos SAPPO se oudit-komitee gedien.

Kollegas onthou hom as een van die eerste produsente wat dit met sy besigheid buite die plaashek gewaag het. Sy jarelange betrokkenheid by Eskort en sy hulp met die vestiging van die teelmaatskappy Topigs Norsvin, is voorbeelde.

Gerard en Johan van der Walt, SAPPO se huidige voorsitter, was pioniers op die gebied van bioseku-
riteit in die varkbedryf.

Raadslede is dit eens dat hy ‘n uitstekende voorsitter van SAPPO-vergaderings was. Hy het altyd koelkop gebly en onmiddellik op die kern van ‘n probleem gefokus. Daar is nie tyd gemors nie, sake is vinnig en doeltreffend afgehandel en besluite dadelik geneem.

Sy tydgenote sonder ook sy besigheidsvernuf uit. Sy kennis van hoe besighede bestuur word en van sake soos die Maatskappywet was deur die jare vir SAPPO van onskatbare belang. Hy was ook ‘n groot voorstander daarvan dat SAPPO soos ‘n besigheid bestuur moes word.

Gerard is reguit en draai gewoonlik nie doekies om nie. “Jy weet altyd waar jy met Gerard staan,” het ‘n produsent aan Porcus gesê. Tog is hy bekend vir sy goeie menseverhoudinge en mense vind hom maklik om mee saam te werk.

Gerard se seun Charl, wat tans ‘n SAPPO-raadslid is, sê hy sal altyd sy pa se respek en hoflikheid teenoor ander mense uitsonder. “Hy behandel alle mense met waardigheid.”

Gerard is getroud met Charlotte en hulle het vier kinders en tien kleinkinders. Hy was op sy dag ‘n Springbokswemmer en word as ‘n fynproewer van die skone kunste en klassieke musiek beskou.

The South African Pork Producers’ Organisation (SAPPO) coordinates industry interventions and collaboratively manages risks in the value chain to enable the sustainability and profitability of pork producers in South Africa.