Die Suid-Afrikaanse Varkvleisprodusente-organisasie (Savpo) neem sy feitegedrewe bemarking van varkvleis nou na die binnebaan deur saam met die Tim Noakes-stigting navorsing oor atlete se menings oor varkvleis te doen.
Internasionaal is varkvleis van die gewildste soorte vleis, maar in Suid-Afrika staan dit agter hoender- en beesvleis in die ry. ’n Nuwe veldtog wil mites verder nekomdraai en help om dié vleis onder gesondheidsbewustes en atlete te bevorder. Christian Zimelka, Savpo se hoof van verbruikersopvoeding, het op dié organisasie se mediadag in Pretoria gesê die doelwitte van ’n studie saam met die Tim Noakes-stigting is om te bepaal of opvoeding oor voedingswaarde atlete se opvattings oor varkvleis kan verander. Verder wil hulle vasstel of varkvleis as ’n haalbare, proteïenryke voedselsoort vir optimale prestasie beskou kan word en hoe die opvattings oor versadigde vet en vleisgehalte verbruikerskeuses vorm. Die studie word in twee fases gedoen. Uithou-atlete en atlete wat meer op hul krag moet staatmaak, asook hul afrigters en ondersteuningspanne se sienings oor voedingswaarde en verbruikersgewoontes sal deur verskeie navorsingsmetodes bepaal word. “Dit is verbruikers wie se gesondheid vir hulle belangrik is en wat inligting oor voedingswaarde ernstig opneem. Nogtans vermy hulle dikwels varkvleis weens verouderde opvattings oor die vetinhoud en die gesondheidsaspekte daarvan,” het Christian by navraag gesê. In die eerste fase sal kwalitatiewe insigte van 40 atlete en 10 beroepslui, soos dieetkundiges, afrigters en dokters, verkry word. “Ons wil bepaal hoekom varkvleis deel is al dan nie van hul dieet, watter inligtingsbronne oor voedingswaarde hulle vertrou en watter wanopvattings hulle dalk het. “In die tweede fase gaan ons ’n doelgerigte opvoedingsprogram oor voedingswaarde begin. Dit sal gevolg word deur ’n ses weke lange dieetingryping, waartydens deelnemers aangemoedig sal word om hul varkvleisinname te verhoog. Die atlete sal voor en ná dié program mediese toetse ondergaan. Hul liggaamsamestelling sal ontleed word en hul menings sal in opnames oor dieetbevrediging, oefening en gesondheidsuitkomste getoets word.”
Daaglikse varkwors vir Noakes
Dr. Karen Heath van die Tim Noakes-stigting, wat haar doktorsgraad in oefeningfisiologie verwerf het, het op die mediadag gesê prof. Tim Noakes, sport-en-voedingswetenskaplike, het die stigting begin “om die nalatenskap van die bevraagtekening van wetenskap” voort te sit. “Ons spits ons hoofsaaklik toe op metaboliese gesondheid in gemeenskappe met min hulpbronne, maar daag ook huidige dieetkundige reëls en aanbevelings uit. “Ons is opgewonde oor die vennootskap met Savpo omdat ons hoofsaaklik op ’n laekoolhidraat-hoëvet-dieet konsentreer. Een van die grootste algemene wanopvattings is dat varkvleis ’n baie hoë vetinhoud het. Varkvleis se voedingswaarde is wel uitsonderlik hoog.” Karen het gesê die stigting het reeds deur kleiner groepe insigte in die sienings van sportlui oor varkvleis gekry. “Die wanopvattings is ’n werklikheid en die kulturele en godsdienstige struikelblokke kom by alle bevolkingsgroepe voor.” Spesifieke snitte se voordele moet bemark word, het sy gesê. Byvoorbeeld, varklende het ’n laer purieninhoud. Purien veroorsaak jig. Karen meen verbruikers se opvattings oor varkvleis is aan die verander, grootliks danksy smaakmakers (influencers) soos Noakes, wat ’n meer vleisgegronde dieet bevorder. “Tim eet elke dag varkwors.”
Savpo-feite in wetenskap geanker
Die Tim Noakes-studie is deel van Savpo se groter program om die verbruik van varkvleis te bevorder deur feite te verskaf om die mites oor varkvleis onder Suid-Afrikaanse verbruikers te weerlê. Benewens kulturele en godsdienstige dieetbeperkings word mites deur voortgesette verouderde opvattings oor plaaslike varkvleis veroorsaak, het Christian gesê. “Baie Suid-Afrikaners glo steeds dat plaaslik geproduseerde varkvleis onrein, vetterig of onveilig is, tensy dit oorgaar gemaak word. Dit is nie net wetenskaplik onakkuraat nie, maar benadeel ook die varkvleisbedryf se groei.” Savpo het sowat drie jaar gelede ’n vennootskap met die departement menslike voeding van die Universiteit Stellenbosch gesluit om ’n lessenaarstudie van betroubare internasionale navorsing oor die voedingswaarde van varkvleis te doen. Die bevindings is in 2023 in ’n portuurbeoordeelde navorsingsdokument met die titel “Information on the Nutritional Value of South African Pork” gepubliseer. Van die belangrikste bevindings was:
- Maer varkvleis is ryk aan hoëgehalte-proteïen en mikrovoedingstowwe, soos seleen, niasien, vitamien B6 en tiamien.
- Maer varkvleis verhoog nie die risiko vir hartsiektes of diabetes indien dit in matige hoeveelhede as deel van ’n gesonde dieet geëet word nie.
- Strydig met die mites is kommersieel verkoopte varkvleis in Suid-Afrika vry van skadelike parasiete en heeltemal veilig vir verbruik indien dit volgens die aanbevole standaarde gaargemaak word.
- Maer snitte, soos filet, varklende en -boud, se vetinhoud is vergelykbaar met hoenderborsvleis sonder die vel en is in sommige gevalle selfs laer.
Volgens Christian is gesondheidsaansprake oor ’n produk ’n wetlike en etiese mynveld indien dit nie gestaaf kan word nie. “Savpo het besluit om homself as die gesag oor varkvleisfeite daar te stel. Ons voorsien mediahuise, kosredakteurs en kleinhandelaars van feitelike inligting wat nagegaan is en gereed is om gebruik te word.” Hy het gesê Savpo se feiteveldtog is gegrond op ’n model van voedselbemarking wat deur navorsing gerugsteun word. Dit wys hoe ’n bedryfsorganisasie se samewerking met akademiese vennote geloofwaardige kriteria kan lewer waarmee verbruikersvertroue gebou kan word. Hoewel die akademiese feite ’n noodsaaklike onderbou van die veldtog is, word dit op ’n verteerbare manier aan verbruikers oorgedra, het hy bygevoeg.
Nagevorste feite oor varkvleis
Die Universiteit Stellenbosch se navorsingstuk bevat die volgende 22 feite wat wetenskaplik gestaaf is en waarmee Suid-Afrikaanse verbruikers se mites weerlê kan word:
- Suid-Afrikaanse varkvleis word as rooivleis gekategoriseer.
- Maer varkvleis in matige hoeveelhede kan ’n goeie diereproteïentoevoeging tot ’n gesonde, gebalanseerde dieet wees.
- Verbruikers moet vars, maer varkvleis bo verwerkte vorms van varkvleis, soos spek, varkwors, deli-vleis, Weense worsies en polonie, kies.
- Kies maer snitte, soos maer dele van die boud-, lende- en skouer.
- Die eet van hoëwaardeproteïen, soos wat in varkvleis gevind word, kan as deel van ’n gesonde leefstyl — wat oefening insluit — tot die behoud van gesonde spierweefsel bydra.
- Varkvleis bevat nie nét versadigde vetsure nie.
- Varkvleis is ’n ryk bron van verskeie vitamiene en minerale, soos tiamien, niasien, vitamien B6 en seleen.
- Maer, vars varkvleis is ’n gesonde proteïenbron om by ’n dieet vir gewigsverlies in te sluit.
- Die matige inname van vars, maer varkvleis as deel van ’n gesonde, gebalanseerde dieet verhoog nie die risiko vir hartsiekte en diabetes nie. Inteendeel, maer, vars varkvleis in matige hoeveelhede kan ’n goeie toevoeging tot ’n gesonde diabetiese dieet wees.
- Varkvleis is veilig, en kommersiële vars, maer varkvleisprodukte bevat nie skadelike parasiete nie.
- Die eet van varkvleis veroorsaak nie mangelontsteking, griep of verkoue nie.
- Dit is dus nie nodig om varkvleis oorgaar te maak nie.
- Varkvleis is gesond en veelsydig. Dit kan in bredies, roerbraai en sop gebruik word.
- Varkvleis is ’n gesonde en die bekostigbaarste rooivleis in Suid-Afrika. Die volledige navorsingsdokument kan hier afgelaai word: https://sapork.co.za/pork-facts/
Landbouweekblad | 26 Junie 2025 | Bl. 34–35
The South African Pork Producers’ Organisation (SAPPO) coordinates industry interventions and collaboratively manages risks in the value chain to enable the sustainability and profitability of pork producers in South Africa.