Subscribe
to our newsletter

and select which news you want to receive

Voorkomende maatreëls by varkgesondheid

Deur dr Piet Botha, Charlesstraat Veterinêre Konsultante
In die verlede was die kennis van baie siektes by varke tot ‘n groot mate beperk en het beheermaatreëls grootliks bestaan uit die behandeling van varke tydens ‘n uitbraak.  Later is ontdek dat antibiotika en sekere antimikrobe- middels goeie gevolge het wanneer hulle voorkomend (meestal teen lae vlakke) aan varke gevoer word. Die uitwerking hiervan kan direk in die afname in siek varke en behandelings asook verbeterde speen-, groei en voeromsetprestasie gesien word.  Dit was dan ook oor ‘n redelike lang tydperk die algemene prosedure wat as hoofvoorkomingsmaatreël aangewend is, en word vandag nog tot ‘n mate toegepas.  Die nadele hiervan is dat goeie algemene higiëne-maatreëls en werklike siektevoorkoming nie baie goed toegepas word nie.  Die begrip “biosekuriteit” het toe nog nie bestaan nie en is nie werklik toegepas nie.
Namate die bedryf ontwikkel het en verbruikersweerstand teen moontlike antibiotika in dierlike produkte toegeneem het, is nuwe benaderings tot die probleme oor die afgelope ongeveer 15 jaar ontwikkel.  Die klem het op werklike voorkoming eerder as behandeling begin val.  Hiervoor moes taamlike radikale veranderings aangebring word.  Dit het sy beslag gekry in die ontstaan en gebruik van SPF (specific pathogen free) varke, biosekuriteitsmaatreëls en die aanwending van meer en meer entstowwe met ‘n gepaardgaande afname in die gebruik van antibiotika en antimikrobe middels.
SPF-varke
Varke het onder normale omstandighede ‘n wye reeks kieme.  Verskeie is baie moeilik om van ontslae te raak.  Die meeste is “gewone” onskadelike kieme, maar enkeles is erge patogene (veroorsaak siektes soos byvoorbeeld HPP, ensoötiese pneumonie ens.)  Strawwe antibiotiese programme slaag meestal nie daarin om ‘n kudde “skoon” te kry nie.  Antibiotika is in elk geval nie doeltreffend teen dié virussiektes nie.
Om varke te kry wat vry van die kieme is, moes met “kiemvrye” varke begin word.  Dit is bereik deur varkies deur middel van ‘n keisersnee kort voor geboorte uit die sôe te haal en onder steriele toestande groot te maak.  Kunsmatige voeding het in dié tyd ontstaan en grootliks bygedra tot die verbeterde voeding van veral speenvarke wat ons deesdae ondervind.

Ontvolking en herbevolking (depop and repop)

Om kiemvrye varke skoon te hou moes “skoon” behuising, “skoon” kos en “skoon” werkers gebruik word.  Hieruit het die ontwikkeling van SPF-eenhede ontstaan.  Die eenhede word uit drie basiese elemente saamgestel:
1. Skoon, siektevrye geboue — wat of nuut bevolk is met SPF-varke of wat ontvolk, skoongemaak, ontsmet en laat rus is om alle moontlike kieme te laat uitsterf en dan herbevolk te word met SPF-varke.
2. SPF-varke — Dit het gou geblyk dat dit bykans onmoontlik is om werklike kiemvrye varke prakties aan te hou.  Dit is byvoorbeeld onmoontlik om water, kos en lug kiemvry te hou.  Gevolglik is varke gou weer “kiembesmet”, maar met onskadelike, dikwels goeie kieme.  Die belangrike siekteveroorsakende kieme kon egter op dié wyse uitgehou word.  Daarom word na SPF (spesifiek patogeen-vrye) varke verwys.  Hulle is nie kiemvry nie, maar wel vry van siekteveroorsakende kieme en parasiete.  Indien hierdie varke onder “skoon” toestande aangehou word, toon hulle gou baie duidelik dat hulle prestasievermoeë heelwat hoër as die van “gewone” besmette varke is.
3. Biosekuriteit — Om die siektevrye status van so ‘n eenheid te handhaaf, is sekere spesifieke maatreëls nodig.  Eksterne biosekuriteit beoog om siektes uit die plaas te hou.
Daarom word die eenheid omhein en toegang alleen op sekere punte toegelaat, onder bepaalde omstandighede.  Geen voertuie word deesdae in moderne eenhede toegelaat nie en die inbring van voere of uitlaai van varke geskied oor of deur die heining.
Personeel moet in- en uitstort en van klere verwissel in en uit die eenheid.  Besoekers (meestal veeartse) moet vooraf vir drie dae “varkvry” (dus geen besoeke aan ander varkplase) wees alvorens hulle mag ingaan.  Ongewenste diere, huisdiere, voëls, knaagdiere en insekte moet ook sover moontlik uitgehou word.
Interne biosekuriteit is daarop gemik om die verspreiding van kieme binne die eenheid te beperk.
Hier word op die volgende bestuurstelsels gefokus: “alles-in alles-uit” (AI-AO) vark en personeelbewegings (van klein na groot), gebruik van voetbaddens en soms afskeiding van afdelings.
Praktiese boerdery
Gelukkig is dit nie noodsaaklik dat alle boere nou die duur proses van “depop-repop” en SPF-varke hoef aan te pak nie.  ‘n Hoë gesondheidstandaard kan gehandhaaf word deur sekere maatreëls streng en getrou (geen kortpaaie) na te volg.  Dit behels basies dieselfde as bogenoemde sonder om noodwendig SPF-status te bereik.
Bestuur
Goeie eksterne en interne biosekuriteitsmaatreëls doen baie om jou eenheid te beskerm.  Goeie en getroue toepassing van die AI-AO beginsel by veral kraam- en speeneenhede maak gewoonlik ‘n beduidende verskil in speenmassa, groeitempo, vrektes en voeromset.
Ontsmetting
Die skoonmaak en ontsmettingsprosedure wat reg uitgevoer word, speel eweneens ‘n belangrike rol.  Maak seker van deeglike verwydering van vaste stowwe (mis en beddegoed) deur grawe, krappers en drukwas.  Seepreinigers om dit te versag en vette te verwyder, kan baie help.  Na aanvanklike uitwas is goeie uitdroging noodsaaklik, anders werk die meeste ontsmetmiddels nie goed nie.  Na ontsmetting is ‘n tweede drooglê ook nodig.  Dit gee die ontsmettingsmiddels kans om te werk en verhoed nat besoedeling.  Verder moet twee aspekte van ontsmetmiddels onthou word:
1. Die korrekte konsentrasie moet aangemaak word.
2. Die regte hoeveelheid per oppervlak moet toegedien word.
Ook gange en symure moet behandel word.
Entstowwe
Entstowwe vir die meeste varksiektes (behalwe circo 2 virus) is oor die laaste jare ontwikkel en speel ‘n belangrike rol in siektebeheer.  Vir programme en aanwending moet produsente met hulle konsultante skakel.
Antimikrobe-middels
Dié middels het steeds ‘n belangrike rol in praktiese boerdery, solank hulle reg aangewend word.  Veral in speenvark- en jong-groeier-stadia kan hulle met vrug gebruik word om siektes te beheer.  Ook vir individuele siek diere is gebruik daarvan dikwels noodsaaklik.  Die gebruik van antimikrobe-middels in groeier- en uitskotvarke moet sover moontlik vermy word.  Varke behoort vir 30 dae voor bemarking geen antimikrobe/antibiotika te ontvang nie.  Spesiale prosedures word vir siek varke in dié kategorieë voorgestel.
Nuwe teeldiere
Dit is wenslik om teeldiere van ‘n enkele bron met ‘n bekende siektestatus aan te koop.  Hoe meer bronne gebruik word, hoe groter die gevaar van siekte-oordraging.  Maak seker of die teller sy siektestatus deur ‘n veearts kan sertifiseer al dan nie.  Waar nuwe varke uit ‘n nie SPF-kudde ingebring word, is kwarantynmedikasie-periode aangewese.  Die medikasie dien om die “gewone” siektekieme wat die varke mag dra te probeer uitroei voordat hulle in die kudde ingebring word.
By SPF varke is dit eerder raadsaam om hulle direk in te bring, onder antibiotiese decking vir ‘n tydperk.  Dit beskerm die SPF varke teen kieme van die eenheid en stel hulle in staat om ‘n immunitiet daarteen op te bou.
Op die wyse van produsente ook op “gewone” plase in hoë gesondheistatus handhaaf wat deur middel van produksieprestasie homself sal betaal.  By dit alles is dit nodig om die stelsel getrou toe te pas en nie kort paaie te vat nie.

Share on facebook
Share on twitter
Share on linkedin