Subscribe
to our newsletter

and select which news you want to receive

Vele uitdagings en veranderings wag op plaaslike bedryf

Dr Pieter Grimbeek, ‘n konsultant van Potchefstroom, het by die expo van die Noord-Vrystaatse Varkstudiegroep op Bothaville (April 2006) die toekoms van die varkbedryf onder die soeklig geplaas.
Verandering bly ‘n konstante parameter in enige bedryf.  Die varkbedryf het in die afgelope 25 jaar elke jaar anders as die vorige jaar gelyk.  Die afgelope drie jaar was heeltemal verskillend en die volgende tien jaar gaan baie dinamies wees.Die varkbedryf funksioneer nie in isolasie nie. Markkragte wat ‘n invloed op die bedryf uitoefen, is die volgende:

  • Die makro-ekonomie en Suid-Afrika se ongelooflike groei die laaste drie jaar;
  • Die vleisbedryf in die geheel en die eise wat deur die verbruiker gestel word;
  • Die plaas-ekonomie en die koste van produksie per kilogram geproduseer.;
  • Die omgewing (geboue) waarin geboer word, wat besig is om dramaties te verander.
  • Die personeel en die mense wat plase bestuur;
  • Swart ekonomiese bemagtiging, ‘n faktor wat uniek is tot Suid-Afrika.
  • Veiligheid van die omgewing;
  • Varksiektes en die impak daarvan op winsgewendheid.

In meer besonderhede:
Die makro-ekonomie
Inflasie is tans onder beheer en stabiel terwyl insetkoste drasties gedaal het.  Uitsetkoste is stabiel maar daar is druk op varkpryse.
Die vraag na varkvleis is dikwels wisselvallig. Dit is seisoenaal en hang van vraag teenoor aanbod af.
Varkplase
Die wêreldneiging is dat plase groter en minder word.  Kleiner boere word egter nog steeds weens regerings se grondhervormingbeleid gevestig maar is dikwels afhanklik van regeringshulp.
Die neiging wêreldwyd is dat produsente alliansies of verbintenisse vorm.  Vertikale integrasie tussen produksie-eenhede vind plaas, soos in die geval van Iowa Select Farms, Bunge, Premium Standard, Tyson in die VSA en in lande soos Pole en Rusland. ‘n Kenmerk van moderne varkvleisproduksie is dat boerderye nader aan abattoirs geleë is.
Suid-Afrika behoort in die toekoms  vier tot vyf groot produksie-eenhede te hê. Groot produksie-eenhede het spesifieke kenmerke.
Op die groot plase is daar baie goeie beheer, behoorlike rekords en begrotings word gehou, daar is professionele bestuurders, netjiese hokke en doeltreffende biosekuriteit. Daar is gewoonlik ook ‘n visie waar die boerdery byvoorbeeld oor ‘n jaar of twee moet wees.
Daar is plek vir kleiner boere, soos mielieboere wat hulle mielies deur hulle eie varke wil benut. Kleiner boere is oor die algemeen egter van regeringshulp afhanklik.  Nuwe toetreders moet kennis neem dat dit nie so maklik is om tot die varkbedryf toe te tree nie. Baie kapitaal word hiervoor benodig. Dit kos byvoorbeeld sowat R1,8 miljoen om ‘n honderd-sog-eenheid op te rig.
Verbruikersbehoeftes
As produsente verbruikers van ‘n goeie produk voorsien, sal hulle altyd ‘n mark vir hulle produk hê.
Die verbruiker verlang gesonde varkvleis met so min as moontlik vet omdat hulle bewus is van die invloed van vetsure op die liggaam.  PSE bly die bedryf se grootste probleem uit ‘n gehalte-oogpunt.
Varkvleis het deur die jare met teeldoelwitte wat na die minimum vet streef, droog en smaakloos geword. Telers kyk nou weer na maniere om binnespierse vet (marmering) terug te plaas.
Die verbruiker dring voorts aan op veilige vleis. Hulle wil weet dat varkprodusente se produksiepraktyke bo verdenking is.
Verbruikers dring ook aan op verskeidenheid en produkte wat maklik voorberei kan word. Dit moet lekker wees om varkvleis te eet.
Welsyn
Welsyn is al hoe meer in die kollig, veral in Europa. Dit gaan in die toekoms ook in Suid-Afrika ‘n groot rol speel.
Die Europese Unie het reeds streng wetgewing in dié verband.  In die Verenigde Koninkryk mag varke byvoorbeeld nie onder die ouderdom van 21 dae gespeen word nie.
Produksiepraktyke soos kastrasie, stertknip en tandeknip kan ‘n mens as pynfaktore klassifiseer.  Verbruikers vra al hoe meer vrae rondom dié praktyke.
Ander faktore waaraan die bedryf moet aandag gee, is die mensliewende vervoer van varke, kritiek op sogkratte, en die aandrang op losbehuising van sôe, wat al hoe groter word.
Al dié faktore kan vir ‘n slegte beeld van varkvleis sorg en mense weerhou om varkvleis te eet.
Produksiekoste
Teen die jaar 2015 sal daar byvoorbeeld 156 000 sôe nodig wees om 212 000kg varkvleis te produseer. As produsente daarin kan slaag om karkasmassa na sowat 90kg te verhoog, sal ons egter net 100 000 sôe nodig hê. Lande soos Denemarke produseer reeds karkase van 83kg. Die vraag word dikwels gevra waarom Suid-Afrika nie swaarder karkasse produseer nie. Dit kan dalk toegeskryf word aan die feit dat Suid-Afrika nie werklik ‘n varkvleiskultuur het soos byvoorbeeld baie Europese lande nie.
Ons sal byvoorbeeld ook visie moet hê om per capita-verbruik van 3.14kg na 10kg op te stoot. Ons kan dit wel bereik as ons saamwerk.
Die varkbedryf sal verder sowat 11% van die land se mielies teen 2015 verbruik. Daar is dus ‘n gulde geleentheid vir die varkvleisbedryf en die mieliebedryf om in ‘n groter mate hande te vat.
Produksiekoste neig afwaarts soos produktiwiteit en doeltreffendheid verbeter.  Die beleggingskoste of waarde per sog styg omdat daar meer kilogram vleis per sog beskikbaar is.
Lande soos Denemarke het klaar produsente wat 30 varkies per jaar produseer. Dié produsente is ongelukkig as hulle net 25 per jaar produseer.
Plase van die toekoms
Die alles-in-alles-uit-stelsel gaan algemene praktyk wees.  Plase sal makliker wees om te bestuur en dit sal goedkoper wees om ‘n boerdery te begin.  Ekonomie van skaal gaan ‘n faktor wees omdat dit makliker vir ‘n groter boer is om doeltreffend te produseer. Dit beteken egter nie dat ‘n klein boer noodwendig ondoeltreffend is nie.
Produsente sal in die toekoms baie bewus van biosekuriteit en welsynskwessies moet wees.
Uitdagings
Tien jaar gelede was die Suid-Afrikaanse varkkudde springlewendig maar die afgelope vyf jaar is plaaslike produsente terdeë bewus van varksiektes.
Een van die grootste uitdagings vir die varkvleisbedryf is om doeltreffende biosekuriteitsmaatreëls in plek hê om siektes uit te hou.
Die grootste gevare vir die bedryf is varksiektes soos PRRS, bek- en klouseer, EVP, influensa en die PVC-II virus.  Nuwe virusse sal waarskynlik ‘n groot probleem in die toekoms wees. Van hulle is Menagle, Nipah en Blou-oog.  Siektes wat aan mense oorgedra kan word, is Salmonella, Trichinella, griep, Campylobacter, E coli 0157 en Toksoplasmose.
Verbruikersweerstand
Die bedryf sal verder verbruikersweerstand teen varkvleis moet oorkom.  ‘n Ander uitdaging is om ‘n gehalteketting- en naspoorbaarheidstelsel te ontwikkel en in werking te stel. Omgewingsfaktore soos doeltreffende misdambestuur en besoedeling sal ook ‘n belangrike rol in produksie speel.
Produsente sal ook deeglik op die hoogte moet wees van nuwe wetgewing soos die Waterwet, die nasionale Omgewingsbestuurswet, en munisipale regulasies.
Verwysings
•  Dr G. Bührmann:  CSF Slide Show,  SAPPO, September 2005
•  Dr P. Vervoort, Meadow Internal Conference
•  SAMIC various weekly e-newsletter
•  The PigSite e-newsletter
•  Swine Prairie e-newletter
•  Big Dutchman.
•  www.goveg.com

Share on facebook
Share on twitter
Share on linkedin