Subscribe
to our newsletter

and select which news you want to receive

Sonkragstelsels vir die landbou

Deur Flip Opperman
Ons het onlangs verneem dat Eskom se tariewe vir die 2015/2016 finansiële jaar met 12,69% gaan styg. Wat is die werklike impak van hierdie styging op boerderybedrywighede? Hoe gaan koolstof-belasting, wat op 1 Januarie 2016 in werking tree, die landbou beïnvloed? Gaan dit nog ’n verhoging in energiekoste veroorsaak? Is ’n boerdery met sulke kostestygings nog lewensvatbaar en winsgewend?

Energie is een van landbou se grootste uitgawes. Die pluspunt hiervan is dat dit een van die min uitgawes is waar ’n boer daadwerklik kostes kan bespaar. Wanneer na die moontlikheid gekyk word om Eskom-krag met sonkrag aan te vul, is daar ’n paar faktore wat in ag geneem moet word voor ’n ingeligte besluit geneem kan word, naamlik:
•    Sonenergie is ’n medium- tot langtermynbelegging, wat ’n energie-produksieleeftyd van 25 jaar plus het.
Die verbruiker moet bereid wees om self energiebestuur toe te pas as deel van sy of haar daaglikse aktiwiteite sodat die stelsel optimaal benut word.
Finansiële impak
Sonkrag sal slegs ’n aanvulling tot Eskom-krag wees en dus sal die maandelikse vaste kostes wat deur Eskom gehef word, steeds verskuldig wees. Alternatiewelik kan ’n stelsel ontwerp word wat onafhanklik van Eskom-krag is en dan die primêre bron van energie is. In so ’n geval sal Eskom versoek word om hul punt te verwyder en kan die vaste kostes bespaar word.
Verskeie faktore moet in ag geneem word wanneer besluit word of ’n son-kragstelsel wel finansieel voordelig is.
Die voordele moet in die geheel geëvalueer word om ’n ingeligte besluit te neem. Van hierdie voordele is as volg:
Die gemiddelde energiekoste (R per kW/h) (vaste kostes uitgesluit) vir ’n boerdery is tussen R0,4933 en R0,8938 per kW/h, afhangende van die tipe
boerdery, die energieverbruik-profiel en die tariefskaal van die boerdery. Die gemiddelde energiekoste sal egter tussen R0,3893 en R0,4696 per kW/h wees, afhangende van die grootte van die stelsel, die tipe toerusting wat geïnstalleer word en die totale energieproduksie van die stelsel oor ’n tydperk van 25 jaar.
Die finansiële voordeel lê daarin dat die verbruiker onmiddellik sy of haar energiekoste op ’n bepaalde tarief vasmaak vir die volgende 25 jaar. Eskom-verhogings gaan dus geen verdere impak op die energietarief hê nie en ’n onmiddellike besparing in energiekoste tot gevolg hê.
Die besparing in energie sal ook bydra tot die maandelikse paaiement wat aan die finansier terugbetaal moet word indien die stelsel gefinansier word.
Deur energiekoste (dit wat deur ’n sonkragstelsel geproduseer word) op ’n bepaalde tarief vas te maak, beskerm die verbruikers hulle boerdery teen enige verdere prysverhogings ten opsigte van die energie wat deur sy stelsel geproduseer word.
Die verbruiker se grondwaarde verhoog aangesien hy of sy nou landbougrond besit wat selfonderhoudend is wat elektrisiteit betref, afhangende van die grootte van die stelsel.
Inisiatiewe en rabatte
Die gebruiker is geregtig op sekere inisiatiewe en rabatte wat wesenlike finansiële voordele inhou:
Sekere van die kommersiële banke bied ’n sewe persent rabat/afslag op die kapitale bedrag wat geleen word. Die verbruiker hoef dus net 93% van die kapitale bedrag wat geleen is terug te betaal, mits sodanige lening vir die installering van groen tegnologie aangewend word.
Die Departement van Handel en Nywerheid bied ook sekere rabatte. Hierdie rabatte val onder die MCEP-program (Manufacturing Competitive Enhancement Programme) vir energie-doeltreffende projekte. Daar is egter ’n beperking op watter bedrywe vir hierdie rabat sal kwalifiseer. In die landbou sal dit veral boerderye wees waar een van die volgende aktiwiteite plaasvind:
•    Verpakking (pakhuis). Hier is dit veral die groente- en vrugtebedrywe wat voordeel sal trek.
•    Slagplase, vee-, pluimvee- en wildboerdery sal hier voordeel trek, mits hulle ’n slagplaas op hul grond het. Hierdie slaggeriewe moet egter aan alle regsvereistes voldoen.
•    Wynkelders – druiweboerdery. Die wynkelder moet op die wynplaas self wees.
•    Die verwerking van melkprodukte (bv die pasteurisering van melk), uitge-sluit ’n melkery self.
Daar is ook sekere inkomste-belastingvoordele vir die besigheid. Hierdie belastingvoordele sluit die volgende in:
•    Artikel 12L, ’n groenkragrabat wat teen die besigheid se belasbare inkomste toegestaan word vir elke 1kW/h krag gegenereer uit groen-krag. Hierdie voordeel is slegs beskikbaar tot 1 Januarie 2020.
•    Waardeverminde-ringsafskrywing van die sonkragstelsel teen belasbare inkomste.
Energieprogramme
Verder is daar ook groot finansiële voordele as daar aan een van Eskom se energieprogramme deelgeneem word. Een van hierdie programme wat tot groot voordeel vir die landbou sal wees, is die bank van energie.
Volgens hierdie program kan die verbruiker nou die ekstra krag wat hy of sy gedurende die dag genereer en nie verbruik het nie, by Eskom bank vir latere verbruik. Die verbruiker het dan 12 maande om hierdie krag te verbruik. Eskom word dus die verbruiker se batterybank. Hierdie voordeel kom egter slegs tot sy ware potensiaal indien die boerdery op tydtariefskale is, soos byvoorbeeld Ruraflex.
Die verbruiker genereer kool-stofkrediete uit ‘n sonkragstelsel. Hierdie koolstofkrediete kan, net soos genoteerde aandele, op die ope mark verhandel word en word gewoonlik deur ander maatskappye wie se koolstofdioksied-vrylatingsrekord nie goed is nie, gekoop. Die verhandelingsprys word deur vraag en aanbod bepaal. Die son se energie is verniet en kos die verbruiker geen insetkoste nie, behalwe vir die kapitale uitleg van die stelsel om hierdie energie te kan oes en om te skakel.
Langtermynvoordele
Die kapitale verhalingstydperk is gewoonlik tussen twee en agt jaar, afhangende daarvan of die verbruiker vir al die voordele soos hierbo uiteengesit kwalifiseer. Sonkragstelsels is nie goedkoop nie, maar die langtermyn finansiële voordele weeg egter baie swaarder op as die aanvanklike kapitale uitleg – veral as dit as ’n medium- tot langtermynprojek benader word soos in Figuur 2 verduidelik is.
Vir meer inligting, skakel Flip Opperman by 082 452 9620 of stuur ’n e-pos aan pvsolutions@iburst.co.za.

Share on facebook
Share on twitter
Share on linkedin