Subscribe
to our newsletter

and select which news you want to receive

Probiotika — ‘n moderne toevoeging tot suksesvolle varkproduksie

Deur Dr Reinhold Lawrenz, ‘n veearts
Die gebruik van probiotika by diere en mense om maagdermkanaal (en dus algemene) gesondheid te bevorder, is geen nuwe konsep nie.  Dit word reeds eeue lank daarvoor aangewend, al is die werkingswyse daarvan nie altyd duidelik verstaan nie.Die bekende Bulgaarse medikus, Metchnikoff (1907), het navorsing gedoen oor die langlewendheid en goeie gesondheid wat in sekere landelike gebiede van Bulgarye opvallend was.  Na ‘n deeglike studie het hy tot die slotsom gekom dat hierdie persone “groot” hoeveelhede gefermenteerde melk (yoghurt), op ‘n gereëlde basis as deel van hul daaglikse diëet ingeneem het.  Die isolasie van die melksuurbakterie is daarna in vele menslike en dierlike voedingseksperimente gebruik, ten einde die voordele wat met die inname daarvan gepaard gaan, duidelik te bewys.
Die term Probiotika verwys na lewende organismes, wat — indien hulle in voldoende hoeveelhede aan ‘n gasheer toegedien word — ‘n voordelige uitwerking op die gasheergesondheid sal hê; veral deur middel van die verbetering in die mikroflora status in die maagdermkanaal (WHO, FAO: 2001).
Die uitwerking wat die probiotiese mikro-organismes het, is om sekere komponente van die maagderm inhoud (kos) na melksuur om te skakel, wat sodoende die pH binne die dermkanaal verlaag (versuring).  ‘n Verlaging in die pH van die dermkanaal-inhoud, veroorsaak ‘n teenwerking op die groei van patogene gram negatiewe bakterieë (bv. E.coli), skimmels, en giste (“moulds and yeasts”).  Die suur penetreer die patogeen se selwand, en beïnvloed dus ook die verdere vermenigvuldiging van die patogene.
Die term Prebiotika verwys na ‘n nie-verteerbare voedingsbestanddeel (bv. sekere koolhidrate) wat die groei en aktiwiteit van voordelige bakterieë (= Probiotika) stimuleer — dit bevoordeel die gasheer dus indirek.
Die beskikbaarheid van prebiotiese stowwe in die dermkanaal is van uiterste belang vir die groei en metaboliese prosesse van probiotika.  Laasgenoemde is van groot praktiese betekenis in die praktyk, aangesien die blote toediening van probiotika — sonder die nodige medium waarin hulle kan groei en metaboliseer — waarskynlik tot teleurstellende resultate sal lei.
Voorbeelde van groentes en vrugte wat ‘n natuurlike bron van prebiotika is, is: uie, aspersies, preie, knoffel, piesang, artisjok, sigorei (“onion, asparagus, leek, garlic, banana, artichoke, chicory”).
Vir dierlike gebruik word prebiotika voorberei (vervaardig) uit nie-verteerbare vesel met ‘n hoë energiewaarde (6.28 Kj/g) bv. Inulin, asook uit die selwande van spesifieke gis-selle (Mannose).
Die term Synbiotika verwys na ‘n kombinasie van Probiotika en Prebiotika.
Die afgelope vier dekades het die uiters suksesvolle ontwikkeling en aanwending van antibiotika enige verdere sinvolle ontwikkeling van probiotika op die agtergrond geskuif.  Daar kan geen twyfel wees dat, vir die afsienbare toekoms, die korrekte en verantwoordelike gebruik van antibiotika in die behandeling en genesing, asook in die beheer van siektes by mens en dier, nog ‘n groot rol sal speel nie.  Dit is egter ‘n feit dat die onverantwoordelike gebruik en wangebruik van antibiotika oor vele dekades gelei het tot ‘n groot probleem, naamlik veelvuldige antibiotiese kiem weerstandigheid — ‘n situasie wat kommerwekkende afmetings aanneem.
Dit is dan juis op hierdie vlak waar veral die Europese Unie-lande ‘n leidende rol speel, en ‘n totale verbod op die gebruik van antibiotiese stowwe geplaas het sodat dit geensins meer as groeistimulante in dierevoeding aangewend mag word nie.
Verskeie klasse van alternatiewe groeistimulante — waarin probiotika ‘n prominente rol vervul — word reeds in die mark aangebied en suksesvol aangewend.
Dit is belangrik om in gedagte te hou dat die werkswyse van probiotika en antibiotika baie verskil.  By antibiotika is die primêre doel om bakterieë te “vernietig”.  By die toediening van probiotika word juis die groei van voordelige mikro-organismes bevorder en bevoordeel, om sodoende dermkanaalgesondheid gunstig te beïnvloed, en dus die algemene gesondheid van die mens of dier te bevorder.
Probiotika kan nie as ‘n mededinger vir antibiotika beskou word nie, veral omdat antibiotika terapeuties vir vele siektetoestande aangewend word, terwyl probiotika die bevordering en behoud van ‘n gesonde dermflora veroorsaak — met die gesondheidsvoordele wat natuurlik daaruit voorspruit.  ‘n Klemverskuiwing na behoud van gesondheid — wat uiteraard vele andere maatreëls moet insluit — is veral hier ter sprake.
Baie wetenskaplike publikasies oor die suksesvolle gebruik van probiotika in produksiediere het die afgelope 20 jaar die lig gesien, en voordele wat dit inhou sluit onder meer in:

  • Stabilisering en verbetering van die dermkanaal-mikroflora
  • Onderdruk die kolonisasie van patogene in die dermkanaal (competitive exclusion)
  • Antagonistiese effek teen patogene
  • Verhoog die stimulasie van die immuunsisteem
  • Kontrole en voorkoming van na-speense diarree
  • Bevorder gewigstoename in varke

(Die volledige werkingsmeganisme van die bogenoemde eienskappe (effek), is reeds in vele wetenskaplike publikasies beskryf, en dit sal buite die bestek van hierdie artikel wees om in besonderhede hierop in te gaan).
Wanneer die gebruik van probiotika in ‘n kudde oorweeg word, moet sorgvuldige beplanning in geheel gedoen word voordat die produk van keuse deur die kos of water toegedien kan word.
Let wel:

  • Probiotika is nie ‘n vervanging vir wanneer daar onsuksesvolle behandeling met antibiotika geskied het nie
  • Identifiseer en gebruik ‘n spesifieke probiotika — wat vir die spesifieke doel waarvoor ‘n mens dit wil aanwend, geskik is
  • Korrekte dosis en die tydperk van toediening is baie belangrik
  • Prebiotika behoort (moet) saam met probiotika toegedien te word
  • Volg ‘n alomvattende benadering, wat onder meer insluit:  korrekte formulasie van die voer (bufferkapasiteit) en neem die tipe bestuur wat op die plaas is, in ag. Die tipe voer bv. verpilling kan ‘n nadelige effek hê as gevolg van die temperatuur tydens verpilling wat probiotika nadelig kan beïnvloed,
  • Maak gebruik van kundige advies — en nie slegs van verkoopsargumente nie.

Soos wat vroeër genoem is, word daar reeds geruime tyd in verskeie Europese lande wat ‘n leidende rol in suksesvolle varkproduksie speel, gebruik gemaak van probiotika in plaas van antibiotika as groeistimulante.
Wêreldwyd word probiotika as ‘n veilige middel beskou, wat ook geen onttrekkingsperiode het voordat diere bemark word nie.
Voortgesette navorsing en ontwikkeling van ‘n probiotika wat ‘n reeks ander eienskappe besit, en ook ‘n wyer spektrum van indikasies omvat, word vir die toekoms in die vooruitsig gestel.
Om ‘n nuwe konsep te implementeer wanneer bestaande praktyke goed gevestig is, stel sekerlik ‘n groot uitdaging aan menige produsent.  Daar moet egter duidelik daarvan kennis geneem word dat die tradisionele gebruik van antibiotika as groeistimulante in voedselproduserende diere, aan die einde van ‘n lang pad gekom het.

Share on facebook
Share on twitter
Share on linkedin