Navorsing oor vleis eensydig

As die grootste gedeelte van die wêreldbevolking vegetariërs raak, sal dit nie ‘n wesenlike bydrae lewer om die las op die natuurlike hulpbronne te verlig nie. Dr Heinz Meissner, ‘n privaatkonsultant, het kommentaar gelewer op ‘n navorsingstuk wat deur dr Marco Springmann en kollegas van die Oxford Universiteit gepubliseer is oor die uitwerking op menslike gesondheid, sowel as die omgewing, as die meeste mense op aarde hulle dieet sou aanpas van ‘n vleis-gebaseerde dieet na ‘n vegetariese dieet.

Dr Meissner dit sou meer sinvol wees en mag dit meer kos-tedoeltreffend wees om voedselafval te herwin omdat dit tot soveel as 30% van totale produksie beslaan, maar aansienlike navorsing sal oor dié moontlikheid gedoen moet word. Dr Meissner voer aan dat hoewel die studie ‘n belangrike perspektief op die onderwerp bied, die beginsels wat gebruik is om verskillende diëte met mekaar te vergelyk, aanvegbaar is.
Algemene kommentaar
Die navorsing moet gesien word in die lig van die beperkinge van die studie, soos deur die outeurs self uitgewys. Dit sluit in ‘n gebrek aan navorsing oor die uitwerking van sekere voedselgroepe op menslike gesondheid. Daar is ook ander onsekerhede, waarvan die invloed van verskeie moeilik-korrigeerbare faktore op die voorspellingsmodel wat gebruik is om die verwagte situasie tot 2050 te beskryf, die grootste onsekerheid teweeg bring. Die reaksie van wêreldmarkkragte op dieetaanpassings is ook nie in aanmerking geneem nie.
Spesifieke kommentaar
Dr Meissner het sy verbasing uitgespreek oor die direkte vergelyking tussen vleis en groente (of vrugte), aangesien geen enkele voedselsoort skadelik vir die metaboliese/fisiologiese stelsel kan wees as dit nie óf giftige stowwe óf wanbalanse bevat nie. Voedselsoorte van diere-oorsprong is ryk aan voedingstowwe en het ‘n hoë biologiese waarde, wat beteken dat dit so saamgestel is dat dit die korrekte balans vir optimale metabolisme en sintese bevat. Voedselsoorte wat nie van diere afkomstig is nie, bevat oor die algemeen minder voedingstowwe wat ook nie van ‘n hoë biologiese waarde is nie, aangesien hul aminosure, minerale en vitamiene nie in die korrekte verhouding voorkom nie.
In die praktyk beteken dit groeiende kinders behoort vleis en ander diereprodukte te eet vir optimale groei en kognitiewe ontwikkeling. Dit is ook belangrik dat swanger vroue vleis inneem om bloedarmoede te voorkom.
Behalwe vir wanbalanse en tekortkominge, lê die probleem hoofsaaklik by ‘n oormatige inname van voedselsoorte, wat ook die kern van die navorsingstuk vorm. Dr Meissner is egter van mening dat as ‘n mens die koste van sekere siektes en ‘n verandering in dieet wil ondersoek, jy ook wanbalanse en tekortkominge in berekening moet bring, wat in dié studie uitgelaat is.
Indien spesifieke voedselsoorte dan nie direk vergelyk kan word nie, kan slegs die totaal en verhouding van die voedselsoorte wat saam verbruik word, dus die spyskaart, met mekaar vergelyk word en omdat daar soveel kombinasies kan wees, is ondersoeke hieroor baie moeilik. Daarom gebruik navorsers meestal korrelasie-statistieke met groot getalle verbruikers om te bepaal of uitkomste van eksperimente ooreenstem, ten einde die betroubaarheid van ‘n bepaalde afleiding oor byvoorbeeld vleis teenoor groente te toets. Die probleem bly egter dat korrelasie-statistiek nie oorsaak en gevolg met oortuiging kan bepaal nie.
Hoewel daar tans meer doeltreffende hulpmiddels beskikbaar is om veran-derlikes meer akkuraat te bepaal, bly die wyd uiteenlopende samestelling van spyskaarte ‘n kopseer. Dus sal daar waarskynlik net soveel navorsingstukke wees wat die verbruik van vleis veroordeel as dié wat dit aanbeveel.
Hoewel die skrywers aanvaar dat die verwantskap tussen die gebruik van vleis en hoë bloeddruk, hartvatsiektes en kanker negatief is, is daar ook al heelwat resultate gepubliseer wat wys dat daar geen verwantskap tussen die inname van rooivleis en dié siektes is nie. Die enigste verwantskap wat met dié spesifieke siektes gevind is, is die inname van suiker/insulien (suikersiekte as oorsaak) en ou kookolie, of kookolie wat oor en oor gebruik is. Daar is spesifiek geen verwantskap met die inname van versadigde vette gevind nie. Daar is trouens bewys dat die inname van versadigde vette voordelig vir menslike gesondheid kan wees.
Die algemene opvatting is dat ‘n daaglikse inname van tussen 100 en 150 g vleis nie skadelik vir die gesondheid behoort te wees as dit nie ‘n hoë persentasie vet bevat nie; nie weens die hoë hoeveelheid vetsure nie, maar die hoë energie-inname. Die oormatige inname van vleis in porsies van tussen 400 tot 700 g per dag kan wel tot vetsug en ander gesondheidsprobleme lei weens die oormatige energie-inname. Die inname van tussen 20 en 40 g vleis in ontwikkelende lande is egter bloot nie genoeg om te help om ondervervoeding en Kwasjiorkor-siekte te bekamp nie.
Kan groente en vrugte alternatiewe vir vleis wees? Die positiewe van so ‘n dieet is dat dit baie moeilik sal wees om oorgewig te wees, aangesien drie tot vier keer meer groente en vrugte ingeneem moet word om dieselfde voedings-waarde en energiewaarde in te neem as wat die geval is met vleis. Om dit reg te kry, sal mens ook bykomend groot hoe-veelhede suiker, meiliemeel, koring en rys moet inneem, wat tot hoë insulien-vlakke en derhalwe suikersiekte kan lei.
Volgens dr Meissner maak dit dus nie sin om ‘n vleisdieet direk met ‘n vegetariese dieet te vergelyk nie. Die ideaal is dat mense ‘n gebalanseerde dieet volg wat nie net vleis bevat nie, maar ook vrugte en groente en ander voedselsoorte wat in totaal ‘n lae suiker/insulienreaksie sal gee. Dit is ook die aanbevelings wat oor die algemeen in die meeste lande in die wêreld gemaak word. So ‘n dieet behoort dus die vertrekpunt te wees uit ‘n voedselsekerheid- sowel as ‘n gesondheidsoogpunt.
Perspektief op klimaatsverandering
Die aanname dat landbou en dus die veebedryf vir ‘n groot persentasie van kweekhuisgasse verantwoordelik is, is altyd in die kollig en die navorsers gebruik die oorspronklik berekende syfer van 18% as die vertrekpunt. Dit is egter nou bewys as aansienlik laer (12-14%), en dit wissel tussen slegs 4 en 8% in geïndustrialiseerde lande tot 40% in nie-geïndustrialiseerde lande, laasgenoemde bloot omdat hulle nie groot industrieë het nie.
Hoewel skynbaar hoog, is die bydrae van nie-geïndustrialiseerde lande tot die wêreldtotaal maar onbeduidend. Nietemin, is dit duidelik dat landbou, en derhalwe die veebedryf, se bydrae tot die totale kweekhuisgasvrystelling veel laer is as wat aanvanklik bereken is, veral as ook in ag geneem word dat deel van die vrystelling in veld en aangeplante weiding opgeneem en gestoor word.
Die argument oor die vrylating van metaangas is andersins ook ‘n sensitiewe aangeleentheid. Daar word slegs op veevrylatings gefokus, terwyl die mens se bydrae in dié verband heeltemal geïgnoreer word. Alhoewel herkouers se metaangasvrylating per dier baie meer is as dié van die mens, is hul getalle in die miljoene, terwyl die getalle van die mens etlike biljoene bedra. Mense sal op ‘n vegetariese dieet ook meer metaangas vrylaat as wat die geval is met ‘n gebalanseerde dieet wat vleis bevat weens verteringsverskille.
As vegetariese diëte in toenemende mate gebruik word, is daar twee aan-geleenthede wat in ag geneem moet word:
•    Die aantal kunsmis wat gebruik sal word. Dit is nie net duur nie, maar in die konteks van klimaatsverandering sal dit ‘n aansienlike bydrae lewer tot die vrylating van kweekhuisgasse weens stikstofdioksied wat 210 keer die verwarmingspotensiaal het as koolstofdioksied.
•    Die grootste uitwerking van klimaatsverandering sal op waterbronne wees. Neerslag sal in sommige gebiede toeneem en in ander gebiede afneem. Die lande wat in laasgenoemde kategorie val, is hoofsaaklik ontwikkelende, droë lande wat nie geskik is vir die aanplanting van groente en vrugte nie. Dit is waarom veeproduksie die lewensbloed van baie lande is. Veegetalle sal selfs toeneem omdat die bevolkingsgroei meestal in arm en ontwikkelende lande plaasvind. Die groeiende middelklas in dié lande wil vleis eet, nie stapelvoedsel nie.
Koste-perspektief
Dr Meissner is daarvan oortuig dat die outeurs van die navorsingstuk nie alle scenario’s tot en met 2050 voldoende aangespreek het nie. Die kwessie van sosio-ekonomiese beperkinge is ook glad nie aangeraak nie.
As meer groente en vrugte geproduseer moet word, sal dit net in sekere lande en streke gedoen kan word, wat beteken dat enorme getalle vrugte en groente oor die wêreld versprei sal moet word.
Dr Meissner twyfel of dit moontlik sal wees. Nie net sal dit enorme infrastruktuur, byvoorbeeld vir droging en verwerking, en vervoerkostes behels nie, dit sal ook lei tot die vrylating van enorme hoeveelhede kweekhuisgasse. Investe-ringsmoontlikhede sal in sekere lande ook onmoontlik wees weens die finansiële implikasies en gebrek aan markte.
Die netto-globale uitwerking van die outeurs se voorstelle sal na verwagting gering wees, behalwe in sekere van die ontwikkelde lande, waar dit vrugte mag afwerp.

Share on facebook
Share on twitter
Share on linkedin