Subscribe
to our newsletter

and select which news you want to receive

Die perfekte storm

Dr Pieter Grimbeek, MooiVet
Die storm wat ons varkbedryf die afgelope tyd bekruip het, is nog in volle dramatiese swang. Dit is asof alles meteens bymekaargekom het:
•  ‘n Knap binnelandse mielievoorraad.
•  Die droogte wat die VSA, asook lande soos Argentinië getref het, wat nie net mielies nie, maar ook sojapryse die hoogte in laat skiet het.
•  Onbeheersde uitbreiding in die plaaslike pluimveebedryf.
•  Die bo-normale beskikbaarheid van vleis weens die ongekende verbete-ring in varkvleisprodusente se repro-en produksieparameters, sowel as die bemarking van swaarder karkasse.
•  Roekelose vleisinvoere, asook die dreigende storting van bees-vleiskarkasse vanaf Botswana.
•  Sprake dat die Europese Unie kan ontbind weens die bankrotskap van verskeie lede.
•  Amerika wat meer as sestien triljoen dollar skuld, by verre die hoogste skuld van enige land in wêreldgeskiedenis.
•  ‘n Dalende groeikoers in Sjina, wat vir die afgelope vyf jaar ongekende opwaarste groei getoon het.
•  Plaaslike verbruikers wat sukkel met ongewone elektrisiteit-, brandstof- en loopfoonuitgawes, derhalwe het hulle min oor om op kos te spandeer.

Waarheen nou?
Daar is geen twyfel dat baie varkvleisprodusente, nie net in Suid Afrika nie, maar in baie ander lande, die wind van voor ervaar. Ouer en kleiner produsente is reg om die handdoek in te gooi. Dit is ironies dat die likwidasie van kuddes tot ‘n korttermynoorvloed mag lei, wat die mark nog verder onder druk kan plaas en dan weer in agt tot tien maande van nou af tot ernstige tekorte mag lei. Die hoogste pieke en laagste trôe van vark-vleispryse is en bly te wisselvallig en te wispelturig. Produsente wat die aanslag sal kan weerstaan, sal weer soos in die verlede, die vrugte van hulle geduld kan pluk.
Produsente is weer besig om na elke uitgawe te kyk en te besin. Daar is basies twee belangrike aspekte om te onthou:
1. Om plaasproduksie optimaal te benut, en
2. Om maniere te ontdek en te implementeer, om die uitermatige hoë voerkostes te verminder.
Plaasproduksie
•  Word alle beskikbare geboue op jou boerdery ten volle reg benut?
•  Het elke vertrek plafonne en word die korrekte temperature vir elke fase van produksie gehandhaaf?
•  Het ‘n konsultant of kundige jou onlangs besoek en is elke faset van die produksieketting ondersoek?
•   Hoe lyk jou soguitskotbeleid en wat is die kudde se pariteitstruktuur?
•  Word voervermorsing beperk?
•  Is die regte genetika aangekoop?
•  Is daar ‘n duidelike jongsoggiever-vangingsbeleid met die nodige strukture en geboue en personeel wat dit verstaan? Daar is geen rede dat eerstepariteitsôe nie syfers van meer as 11 lewendig gebore en ‘n jongingstempo van meer as 90% kan handhaaf nie.
•  Word die personeel gereeld opgelei, gemotiveer en getoets? Bereik hulle die standaarde wat jy van hulle verwag? Word konsultante gedurig uitgedaag om nuwe idees en kundigheid plaas toe te bring?
Wanneer ons na die huidige voeruitgawes kyk, dan snak ons na ons asems. Voerpryse het geweldig gestyg, iets wat enige produsent ongemaklik laat voel. Hierdie voerprysstygings lei daartoe dat baie min produsente tans positiewe marges toon. Die kleiner produsent, en veral die opkomende produsente wat uit die sak uit moet produseer, het amper geen kans teen die gevestigde tuismengers nie en selfs die beste van laasgenoemde produseer teen gelykbreekscenarios.
•  In Suid-Afrika is daar min (geen) vervanging vir mielies as ‘n energiebron nie. Van tyd tot tyd kan voergraadkoring en soet graansorghum ten volle of ‘n gedeelte van die mie-liekomponent van ‘n dieet vervang, mits die pryse kompeterend is. Om goedkoper, minderwaardige komponente in die plek van duur mielies te vervang, is nie altyd ‘n wyse besluit nie.
•  Dit is belangrik dat die voer korrek en fyn gemaal is. Navorsing het getoon dat voere ten minste tussen 700 tot 900 mikron fyn behoort te wees. Die fynheid van maal bevorder absorpsie en sodoende word voeromsette verbeter.
•  Hoewel moderne gekompliseerde kruip- en speendiёte duur is, word die korrekte en beheerde aanwen-
ding van die diёte in jonger diere sterk aanbeveel om sodoende die genetiese potensiaal in jongdiere ten volle te benut.
•  Die gebruik van voerbyvoegsels moet heroorweeg word in dié situasies. Ten tye van duur voer kan die gebruik van sekere groeistimulante baie koste- doeltreffend wees.
•  Spesifieke en beheerde aanwending van invoer of deur-die-water-medikasies kan met jou veearts bespreek word, om sodoende die gesondheidstatus van die kudde te verbeter. Gesondheid as ‘n komponent van intensiewe boerdery moet nooit onderskat word nie.
•  Meet gereeld jou groeikudde se massa tot ouderdomprestasie en vergelyk dit met verwagte innames op sekere stadia.
•  Die verbetering van GDT van 50 gram per dag tussen 70 tot 150 dae van ouderdom verminder die koste van produksie met ongeveer 70 sent per kilogram. So kan daar vir elke faset van die produksieketting gemeet en geskaaf word.
•  Beperk die onnodige skuif van varke. Vir elke keer wat varke geskuif word, word veroorsaak dat hulle een dag langer neem om slaggereed te wees (tot drie dae as die praktyk swak uitgevoer is).
•  Toets gereeld die mark en praat ge-reeld met die persoon of instansie wat jou varke aankoop. Hoewel die voorsiening van swaar karkasse gereeld die beste opbrengs toon, mag daar in tye van surplus nismarkte ontwikkel vir ligter diere.
•  Voervermorsing bly een van die grootste euwels op baie plase. Kyk na en heroorweeg baie van jou lomp praktyke. Die aanwending van voerbuise gekoppel met outomatiese voerders bly elke moderne produsent se eerste keuse. Geen produsent behoort enige vark met die hand te voer nie. Daar word bespiegel dat produsente wat met die hand voer, tot 6% van die voer weens swak hantering kan mors.
•  Sogproduksie is van kardinale be-lang. Die sogkudde word inderdaad as ‘n vaste bate beskou en hoe meer ons uit so ‘n sog kan produseer, hoe laer is die vastekoste van produksie. Deur varkies 100 g swaarder te speen, beteken dat ons so ’n dier een dag vinniger kan bemark. Hoe word sogproduksie gemeet? Is werpsels per sog per jaar meer belangrik as varkies gespeen per sog per jaar? Wat van kilogram gespeen per sog per jaar teenoor kilogram vleis geproduseer per kraamkrat per jaar? Hoe belangrik ag jy die kuddepariteit? Hoeveel varkies het elke sog geproduseer wat die kudde verlaat het – ongeag die rede van attrisie? ‘n Basiese vraag is – wat kos dit  om ‘n varkie te speen? Hoeveel klein varkies sou jy wou speen van elke kraamkrat op die plaas?
•  Dink ons genoeg aan die verbruiker se behoeftes? Die verbruiker is daardie persoon wat sou hy of sy voor die supermark se kaste staan, besluit om dié keer varkvleis te koop en om herhaaldelik sonder om te skroom varkvleis te koop. Histories weet ons dat varkvleis twee groot, miskien drie, probleme het: 1. Dit word as te vet geag. 2. Die kleur van die vleis is wisselvallig, veral met die PSE- (bleek, sag en waterig) sindroom en 3. Vir baie verbruikers bly die geur van die vleis, veral vanaf manlike diere, ‘n groot probleem. Die feit dat sekere diere ouer as 22 weke is wanneer hulle bemark word, verhoog die risiko van beergeur. Dit gebeur al hoe meer in ons bedryf, soos wat die behoefte na swaarder karkasse toeneem. Die bekendstelling van ‘n entstof wat beergeur negeer het groot voordele vir ons bedryf. Geënte manlike diere presteer beter en verloor hulle hormonale agressie baie terwyl hulle nog op die plaas is.
In ‘n onlangse proef, waar daar teen R18.20/kg vir die spesifieke groep varke ontvang is, was daar ‘n R30.94 voordeel in inkomste per karkas en ‘n konstante voordeel van meer as tien Rand per dier nadat die behandeling in ag geneem is. Produsente wat swaar karkasse bemark en besorg is oor vark-vleiskwaliteit en langtermynaanvaarding van ons produk deur ‘n kieskeurige verbruiker, kan gerus inenting teen beergeur oorweeg.
Produsente kan verseker wees dat die mark net soos in die verlede hoogte- en laag-tepunte gaan beleef. Volwasse produsente verstaan die siklus en probeer nooit oorreageer nie. Wat vir jou werk in goeie tye, werk ook in slegte tye. Aandag aan detail bly in elke intensiewe bedryf van kardinale belang. Moet nooit ophou meet nie. Toets elke faset van jou boerdery teen welbekende parameters. Woon studiegroepvergade–rings by. Hou aan lees. Die internet is ‘n ongelooflike bron van inligting, maar kan ook misleidend wees as die boodskap nie in die regte konteks geïnterpreteer word nie.

Share on facebook
Share on twitter
Share on linkedin